Friday, September 18, 2009

Dankie Francois!

Ek lees jou boek op die oomblik... van voorblad tot agterblad, en kan nie wag om om te blaai nie.

Ai toggie, ek ken ook sulke mense, die mense oor wie jy skryf, en dis te lekker vir ... 'vir woorde' is nie die regte uitdrukking om hier te gebruik nie. Dis nie net te lekker vir woorde nie, dis lekkerder as wat woorde kan beskryf. Doe zo Voort! - dis baie meer wêrd as die R125.00 wat jy my gevra het! En ek kan nie wag nie vir "Kambro, Hier kom Ek Weer".

Nogmaals dankie.

Andre Walters

Wednesday, September 16, 2009

KAMBRO My nuutste boek.


En dit was ook toe sy daardie deur oopstoot, toe tref omtrent twintig kaalgat seuns haar van voor af. Hulle hardloop en val dan plat op hulle gatte en gly oor die vloer reg op ou Soes af. Sy wil nog probeer wegkom, maar Kolie ‘tackle’ haar om die enkels en die volgende oomblik gly sy saam met die seuns die hele vloer vol. Ou Soes gil dat die berge antwoord gee, want elke oomblik tref nog ‘n kaal seepgesmeerde seun haar en skree; “Hoesit Soes?”


KAMBRO, is 'n eenmanvertoning wat gebore is uit 'n paar dinge.
"Man sal eet."
"Man sal werk."
"Man sal goed probeer voel oor hom/haarself en ander in die omgewing."

Ons sal maar vir onsself moet begin lag, ander mense doen dit in elk geval.
Om hierdie redes het ek gaan sit en 'n boek geskryf oor familie-storietjies. Elke familie het mos maar die odd storietjie waaroor almal vir jare lag en spot en mekaar vermaak. Ek het ons s'n neergeskryf sodat die volk dit kan lees. My boek word ook KAMBRO genoem en probeer nie 'n letterkundige reus wees nie. Dis volksstorietjies wat hoogstens probeer om 'n glimlag op jou gesig te plaas.

Ek bemark my boek self, omdat ek nie deur 'n uitgewer werk nie. Self publikasie is wat my betref die rigting wat meer en meer mense kan, wil, en sal inslaan. In die verband het ek 'n idee of twee. Kom ons span saam en werk deur een blog om ons goed te bemark. Wat dink julle daarvan? Laat my weet.